Thursday, September 2, 2010
DUIWELSE VISHOEKE EN HEMELSE HUWELIKKE
Het jy al opgelet dat die Duiwel se vurk drie tande het.?
Ek is oortuig daarvan die die Duiwel ook die sogenaamde “treble fishing hooks” ontwerp het. ‘n “Treble hook” is ‘n kombinasie van drie enkel hoeke wat aanmekaar gesweis is. Die skade wat die hoeke aan die arme visse aanbring, veroorsaak dat baie minder visse suksesvol vrygelaat kan word na vangs. Gelukkig is dit die moderne neiging om nie “treble fishing hooks” te gebruik nie – juis vir die rede. Die hoeke kan ook ‘n huwelik op sy fondamente laat wankel…..…..
Vroeg verlede jaar het ek besluit om ‘n dubbel kayak te koop.
“Are you sure you want a double kayak? First prize would be two single kayaks”, se Buce van Stealth vir my. (Dit was diie eerste keer wat ek vir Buce ontmoet het)
“My wife and I like to do things together”
Ek koop toe die Evolution Duo en Bruce beveel aan dat ons aansluit by die Durban Paddle Ski Club.
Met die wettige formaliteite afgehandel by die klub, begin ek konsentreer op die visvang aspek van ons eerste “outing” die eerskomende Saterdag. Andree kan roei en ek kan visvang – ons doen mos dinge saam.
Vrydag gaan ek gou Kingfisher-toe om aas en ‘n paar stukkies toerusting te koop vir die vivang-sessie. Ek koop ook ‘n pragige helder oranje plastiek vissie omtrent 100mm lank. Dit het sommer drie “treble” hoeke aan. Dis die eerste “lure” wat ek koop en is baie in my noppies daaroor.
Oppad terug werk-toe stop ek by ‘n robot reg oorkant die ou Lion Match gebou.
Ek kan mos nie goed uitlos nie.
Ek haal die lure uit sy plastiek boksie om dit van nader te bekyk. Dit het selfs staalballetjies in wat die lure laat “rattle” as jy hom deur die water trek. Die ding MOET kan visse vang!
Skielik lệ die taxi agter my op sy toeter.
Die robot is groen. Ek trek vinnig weg maar stall die kar. En ek laat val die lure. Tussen my bene.
Die bleddie taxi druk nog ‘n paar keer op sy toeter en ek trek stadig weg. Nou moet ek versigtig ry. Oppad na die volgende robot-toe probeer ek voel-voel waar die lure is maar dit skuif net dieper in tussen my bene. Nou sit dit vas aan my broek, daar waar die gulp eindig.
By die volgende rooi robot probeer ek versigtig die treble hoeke losmaak. Hoe meer ek met die ding voeter, hoe vaster sit dit. ‘n Bus vol swart vrouens hou langs my stil. Een van hulle kyk af na my toe en klop die persoon voor haar op die skouer. Die oranje ding tussen my bene is redelik opsigtelik. Ek maak my bene effens toe en nou haak ‘n tweede treble hoek aan my broek.
Oppad kantoor-toe ry ek baie versigtig. Hoe meer ek my bene beweeg om die clutch en brieke te trap; hoe meer maak die lure hom tuis tussen my bene. Maar ek voel darem nie iets skerps teen my vel nie.
Gelukkig is my kantoor in ‘n Parkhome op die parkeerterrein van die bouterrein en ek hou langs my kantoor stil.
Wat nou? Ek kan nie eers my bene oopmaak om uit te klim nie. Die lure het beide van my broekspype gehaak.
“Zemvelo !!” skree ek. Dis die Zulu meisie wat vir my werk.
“Bring me the pair of scissors” vra ek toe sy in die deur staan.
“The scissors?” vra sy
“Yes, the scissors” Dis al wat gaan help.
Ek sit die Kingfisher sak oor my skoot.
Sy gee my die sker deur die venster aan en staan vir my en kyk
“You can go now” se ek vir haar.
Na drie of vier delikate snytjies aan die broek verwyder ek die lure.
Die volgende oggend by die Klub is die see redelik rustig. Dis besig om laagwater te word en af-en-toe breek ‘n brander oor die rotsrif wat geleidelik begin uitsteek, (“Vetchies Pier”).
‘n Ligte windjie waai van die see-af.
Ons roei om die rif na die diep water toe – waar ek gaan visse vang!
Soos dit enige ordentlike beginner visserman betaam het ek als moontlik saamgebring om voorsiening te maak vir enige moontlike gebeurlikheid. Daar is al die moontlike soorte aas, twee tange, handskoene, ‘n sker, ekstra hoeke en selfs ekstra lyn. Mens weet nooit nie…..
Maar ek wil eers die nuwe lure probeer.
Andree sit voor my op die kayak en sy kry instruksies om rustig voort te roei terwyl ek die lure entoesiaties aan die visstok en lyn vasknoop, want vandag gaan daar mos visgevang word.
Ek cast die lure agter-toe oor my skouer sodat ek kan trawl terwyl Andree roei.
Maar iets is verkeerd.
“Wat maak jy? Vra sy vir my.
Die lure se treble hoeke het aan haar hemp gehaak, net langs die reddingsbaadjie agter haar linker skouer.
“Sit doodstil”
Dis moeilik om die hoek by te kom en die momentum van die gooi het die hoek behoorlik in die hemp verstrengel.
“Sny die bleddie ding uit! “se sy na ‘n rukkie se gesukkel.
Die sker laat ‘n 50mm diameter gat in haar hemp voordat die hoek los is.
Toe ek die sker wegsit sien ek ‘n meter hoë deining aangejaag kom van links af.
Met die gesukkel met die hoek, het die wind ons ongesiens bo-op die rif gewaai.
Binne ‘n paar sekondes gaan daai deining bo-oor ons breek!
Ek gryp die spaan.
“Roei links, roei links !” skree ek. Ek wil he dat die kayak links moet draai sodat ons die deining van voor af kan slaan.
Andree verstaan verkeerd en sy roei aan die linkerkant met haar spaan. Dit vererger die situasie.
Maar die golf is op ons. En breek bo-op die kayak.
Die Liewe Vader alleen sal weet hoe ons regop gebly het. Ek onthou dat ek op ‘n stadium als gelos het en aan die kant van die kayak geklou het.
Ons is sopnat.
Maar Andree roei nog soos ‘n besetene.
“Jy kan maar ophou roei. Ons is oor die rif”
Sy gooi haar spaan neer.
“EK HET VIR JOU GESE JY MAG NIE HIER VISVANG NIE” skree sy. (Wat het dit met die saak te doen, wonder ek?)
“EK MAG HIER VISVANG EN EK VIR JOU GESE OM LINKS TE ROEI”
“EK HET LINKS GEROEI”
Oppad huistoe praat ons nie met mekaar nie.
Bloody treble hoeke!
‘n Paar weke later het ons die dubbel kayak ingeruil vir twee enkel kayakke.
First prize, soos Bruce gese het.
Nou kayak ons lekker saam.
Saturday, February 27, 2010
REPORTING FOR (MEDICAL?) DUTY
They call him the “Bulldog” - and with good reason.
The chairman of our paddle ski club is only shoulder height but nobody messes with Johnny Vassilaros when it comes to the well-being of the paddle ski club.
With the proposed development of a small craft harbour on the site of the club, tempers flare up from time to time between Johnny and the Durban City Manager in the press. There is an imminent court case in July 2010, to save Vetchie’s pier and the clubs situated along the beach. Johnny has no problem in referring to the City Manager (Dr Mike Sutcliffe) in the press as “The Big Boss/ Spoilt Child/ The Emperor.
On 23 January 2010 I reported for my annual week-end duty at the clubhouse (about the same size as our house). Johnny was fuming. The guy that should have done duty with me had advised Johnny that he was not available. (He is no longer a member of the club).
Without much ceremony I was referred to a list of duties that had been stuck on the wall:
Wash the floors.
Wash the (plastic) furniture.
Dust the cupboards.
Wash the dishes.
Clean away the sand at the kayak wash bay.
Wash the stoep.
Answer the phone.
Clean the toilets.
Ensure that the main gate remains locked at all times.
Ensure that the log book is signed by all members of the club.
Ensure that every craft that launches has a valid sticker.
Etc, etc.
“And don’t forget the windows” Johnny added as he handed me a crispy-clean dish cloth.
As he was leaving to fish, he shouted over his shoulder:
“Oh, and keep an eye out there for the guys. If somebody drowns, you are responsible”
“Good thing I was in the Army” I replied.
Just my bad luck that Adai had remained in Pretoria for an extra couple of days when I’m doing duty at the club, I thought.
The log book:
Everyone that launches, is required to enter details in the log book that shows the member’s name, vessel number, departure time; and upon return, arrival time, fish caught and fish released.
Beware the guy (we have only one female member) that forgets to record his time of beaching.
Johnny has a system:
“When somebody forgets to record his time of arrival from the sea”, Johnny told me, “I will wait till 2am the next morning and then phone his home number”.
“Invariable the wife will answer the phone and I will tell her that her husband seems to be lost at sea. Obviously the guy will get hell from his wife and then we will follow-up with a disciplinary hearing.”
As I said, you don’t mess with Johnny.
In between washing furniture, dusting cupboards, washing windows, etc. the phone rings continuously.
“What are the guys catching?” they ask. – I don’t know, not one of the 25 fishermen has returned.
“What will the weather be like tomorrow?” I don’t know – check Windguru.
“Is my son there?” – I don’t know, what is your son’s name? I can check the log book.
“Nice job with the windows” Johnny said when he returned from the surf at about 11 am. No fish.
“Do you want some lunch?” he asked.
“No thanks, I brought some sandwiches” I replied.
“I did not ask you whether you brought sandwiches - I asked you if you wanted some lunch!”
“That’ll be nice”, I surrendered.
About twenty minutes later he returned with a massive bacon and egg toasted sandwich wrapped in foil.
Obviously not from your regular “Take-Away”. Where he organized this from, I would not know.
I left washing the floors till last and since my “shift” ended at 4:30pm, I started washing the floors at 3:45 pm.
Man, you have no idea how much sand +- 100 wet, sand-covered feet can deposit on a floor!
Broom in hand and exhausted, I retired to the (swept) stoep at about 4:15 pm
All fishermen had returned by then. They had caught shad, kingfish, mackerel, grunter, etc.
Looking over the glassy sea I could not help but feel somewhat deprived of utilizing the ideal conditions.
Then I noticed an elderly man with a Jack Russel dog approaching from the beach.
He reminded somewhat me of a smaller version of Oupa. Snowy white hair and a beard.
“The name is Blackbeard” he said as he stepped onto the stoep.
“Captain Cook” I said in reply as I reached out for his hand.
“No honestly”, he said, “the beard may be white now, but it used to be black”
“Ok, I’m Pierre”
‘When last did you have your prostrate checked?” he asked.
I looked at him.
“Uh.. my prostrate?”
“When last did you have it checked?”
“Uh.. about 2 years ago?. “ (Actually it’s more than 4 years)
“Not good enough. How old are you?”
“59”
“You must have your prostrate checked every 3 months”
I looked at him.
“Ok”
“I used to be Chairman of the club, but my name does not appear on the board”, he said.
I peek around the corner to the notice board and it’s confirmed – there’s no Blackbeard on the list of chairmen since the 1970,s
“You’re right” I said.
“I had a prostrate operation last week” he said. “It’s my third time. The first time they scraped me. The second time they (…I cannot remember what he said), and this time I had an operation”
“Are you OK now?”
“Is that Greek still Chairman of the club?”
“Do you mean Johnny Vassilaros?”
“I used to be Chairman of the club. I lost a good friend through prostrate cancer two weeks ago. He left it too late, you see”
“I’m sorry”
“Women get breast cancer and men get prostrate cancer”, he added
“I guess you’re right.”
“It’s the tablets, you see. They make me pee. I want to pee every 5 minutes. When people ask me how I am, I say I’m fine, but they don’t know I want to pee every 5 minutes.”
“There’s a toilet at the back” I pointed out.
“No, its OK for now . You must have your prostrate checked”
Then the telephone rang.
Somebody wanted to know what the status with the Duzi marathon is. Sorry, wrong club.
When I went outside again, Blackbeard and his Jack Russel had disappeared.
It was 4:30 pm. when I locked the main gate, thinking about the amusing dialogue between me and Blackbeard.
Or was it?
Monday, February 8, 2010
NO WASH WOK
"Get yourself a stainless steel wok" het iemand 'n paar jaar gelede op die BBC foodchannel gese.Ek weet hoekom hulle so se. Ons vlekvye staal potte brand altyd die kos aan as jy vir 'n oomblik wegkyk. As jy wil "stir-fry", is dit wat jy will he. Die kos moet effens aanbrand terwyl jy roer. Woks wat met Teflon behandel is, werk nie vir my nie. Die kos wat jy stir-fry kook net.
Ek bel toe Boardmans in die Pavilion.
Nee, se hulle, hulle het nie voorraad nie. Ek moet hulle tak in Overport probeer.
"No, we don't have stock." se die mense in Overport.
"Do you want an authentic Chinese wok?"
"Precisely," se ek baie opgewonde. Nou kom ek iewers in my quest vir die ultimate stir-fry.
"Go to Maan Hing in 23 West Street. They will have what you're looking for."
'n (moeilike) Telefoonoproep bevesting dat hulle voorraad het.
23 West Street is in die middestad en etenstyd vra ek vir Piet om my daar af te gooi en om die blok te ry terwyl ek die wok koop.
Eers dink ek ek is in die verkeerde plek. Die winkel is styf gepak met lanterntjies, poppies,porselein bakkies, ens. ens.
Praat van 'n "bull in a china-shop" dink ek.
Geen teken van kookware nie. Om nie eers te praat van woks nie.
Piet is besig om sy petrol uit te ry en ek vra iemand:
"Do you have woks?"
Die chinaman knik sy kop hewiglik.
"How much?" vra ek.
"One hundled Lands" se hy.
"OK" se ek en hy verdwyn soos 'n skim agter die toonbank.
Eers dog ek hy't geval, maar toe ek oorleun sien ek daar is 'n trap na 'n kelder-toe of iets.
Toe hy terugkom is die wok reeds toegedraai.
"This is a stainless steel wok?" vra ek.
Die chinaman knik sy kop hewiglik. Hy gee die wok vir my so half langs die kant van die toonbank om.
Vreemd, dink ek. Wat het hy nog in die kelder wat nie uitgestal word in die winkel nie, wonder ek.Piet wag vir my en ek betaal gou.
In die kar maak ek die wok oop.Dit is nou wragtag outentiek, kan ek dadelik sien. Die wok is vol hamermerke en die handvatselis 'n stuk wilgertak waardeur 'n gat gebrand is, in die lengte (nie geboor nie).
Maar dit lyk nie vir my soos vlekvrye staal nie. Ek ken mos die subtiele verskil in kleur tussen staal en vlekvrye staal.
Ek vra vir Piet om by die Buxtons Sentrum te stop naby die werk. Daar is 'n Chinese Restaurant. Die eienaar sal sekerlik weet of dit 'n vlekvrye wok is of nie.
Die restaurant is leeg behalwe vir die kort Sjinese mannetjie wat agter die toonbak papiertjies sorteer.
Ek groet vriendelik, en hy lyk nie baie entoesiasties om ook vriendelik te wees nie.
"I just bought a wok at Maan Hing" se ek.
"Aaaah, good wok, good wok!" se hy nou vriendeliker.
"I was wondering if it's a stainless steel wok"
Hy kyk oor sy brilletjie vir my. Ek wonder of iets verkeerd gese het.
"You want stainless steel wok, you go to Jo'burg" se hy kort-af en begin weer sy papiertjies sorteer.
Duidelik het ek 'n kat in die sak gekoop dink ek.Hy draai om en begin kombuis se kant-toe stap.
"But how do you prevent your woks from rusting when you wash them?" se ek vinnig voor hy verdwyn.
Hy steek vier voete vas. Hy draai om en kom stadig nader. Hy stop toe sy neus amper aan myne raak. Ek leun eintlik bietjie agteroor.
"NO WASH WOK! NEVER WASH WOK! ALWAYS WIPE WOK!" Hy skree amper.
Hy vlieg om en verdwyn vinnig kombuis se kant-toe.
Ek is verslae.
"Ok", se ek, "I won't wash wok" maar hy is reeds weg.
Nou, na 'n paar jaar is dit nog steeds my favourite wok. Ongelukkig het ek die handvatsel afgesaag wat seker 'n sonde is as jy in ag neem dat dit dalk 'n sesjarige kind in Sjina was wat die wok gemaak het.
Ek is nou-nog nie seker of dit vlekvrye staal is of nie. Maar dit het nooit geroes nie.
Die rede?
Ons NO WASH WOK!
Wednesday, November 18, 2009
DIEPSEE
Sodwanabaai se strand. Nege-uur die oggend van 22 Maart 2008. Paasnaweek. Mooi sonskyndag en windstil.
Ek en Adai staan stomgeslaan op die strand. Vir omtrent 2 km Mosambiek se kant-toe staan daar gazebo's opgeslaan op die strand. Letterlik honderde. En 4x4's. En trekkers. En geroeste lorries. En bote, rubber ducks en what-not.
Die voertuie jaag op en af op die sagte sand. Party mense skarrel om hulle bote hardhandig te launch. Ander kom met 'n helse spoed uit die see om te beach. Party werk aan hulle outboard motors. Daar is skynbaar nie reëls hier nie en jy moet oë agter jou kop hê as jy hier ronddwaal. 'n Blonde meisie op 'n trekker met 'n doelgerigte uitdrukking op haar gesig ry rakelings by ons verby om nog lugbottels iewers te gaan aflaai. Die trekker het 'n spesiale mandjie agterop vol bottels. Agter die duin dreun 'n kompressor wat lugbottels volmaak. Die gazebo's se dakrame hang vol duiktoerusting. Lugbottels is oral opgestapel in piramiedes.
Die magdom van bote varieer van 3m rubberduckies to 3 verdieping motorised fishing yachts wat mens met Ernest Hemmingway sou assosieer.
Op een van die gazebo's se dak adverteer hulle "Scuba Diving" en "Snorkling". Oh cool, dink ek. Hulle vat mens seker na poeletjies toe wat buite loopafstand is. (Yeah, right, het ek later agtergekom). Ons stap nader en die bruingebrande maer vrou onder die gazebo check toerusting wat rondstaan en tick op haar clipboard af. Ja, se sy vriendelik, daar mag dalk vanmiddag plek op die boot wees. As hulle boot nie vol scuba duikers is nie, maak hulle hom vol met mense wat snorkel. Sy sal bel. (Gelukkig werk selfone hier). Maar dan is dit mos hoogwater, dink ek. Die poele sal toe wees onder water.
Een-uur bel sy. Daar is plek op die boot en ons moet half-twee by die gazebo wees. By die gazebo lê en sit mense rond. Hulle wag vir die boot om terug te kom van die riwwe af met 'n klomp scuba duikers.
'n Getattoe-eerde instrukteur verduidelik dat daar 'n paar scuba duikers saam op die boot gaan.
Daar is so vyf van ons wat gaan snorkel. Ons gaan die scuba duikers eers afgooi en dan sal die boot ons na 'n vlakker gedeelte van die rif vat waar ons gaan snorkel. Die rif is hier maar so 12 meter diep, se hy.
TWAALF METER DIEP? SNORKEL?
Toe hy klaar gepraat het, roep ek hom stilletjies eenkant toe. Ek verduidelik dat daar geen manier is wat ek 12 meter diep kan duik nie. Ek sal op-pop soos 'n rubberbal (ek wys na my pens), en buitedien sal ek nie my asem so lank kan ophou nie. Plus, my vrou se ore sal die druk nooit kan handle nie.
O nee, se hy, dis nie die idee nie. Niemand kan so diep snorkel nie. Jy dryf maar net op die oppervlak soos gewoonlik. Jy sal wel baie te sien kry - al duik jy nou nie tussen die korale nie. Daar is baie vis en hulle is nuuskierig. Moenie worry nie, se hy.
En seesiek? Hy waarborg my dat ek nie sal seesiek word nie.
Hoe weet hy, wonder ek.
Terwyl ons wag onder die gazebo word daar paddavoete aangepas. Ons het ons eie snorkels en brille. 'n Stocky, vriendelike, goedgeboude New-Seelander man stel homself aan my en Adai voor. Hy werk elke jaar vir ses maande in London. Die res van die jaar toer hy oor die wereld en scuba-duik. Hy was al orals. Hy se dat die riwwe by Sodwana enige tyd net so spectacular is as by die Great Barrier Reef, maar eintlik nog beter omdat die Sodwanariwwe meer blootgestel is aan die diepsee. Behalwe vir die rifvisse sien mens hier ook diepsee visse soos die "whale-shark". Hy wys ons foto's wat hy die vorige dag geneem het van so 'n "whale-shark" en 'n skool dolfyne wat saam gespeel het in die water. "Let's cross fingers that you have the same experience", se hy.
Die water is 12 meter diep, onthou ek. Ek loer om die hoek van die gazebo. Daar is nou 'n ligte briesie en hier-en-daar vorm daar 'n wit perdjie op die see.
"Die see is vol wit perde", se ek vir Adai. Ek dink sy hoor my nie.
"Die wind waai nogal sterk", se ek. Sy se niks.
Ons het klaar betaal.
Die rubber "duck" waarmee ons uitgaan is 'n 10 meter lange monster. Alles wat droog moet bly word in 'n kompartement toegemaak. Maar die boot le met sy boude na die see se kant-toe. Wat nou? wonder ek. Geen probleem vir 'n geroeste trekker nie. Hy haak die boot se boeg en draai hom sonder moeite deur 180 grade tot sy boeg branders-toe wys.
Wat nou? wonder ek. Weereens, geen probleem vir die trekker nie. Hy stoot die boot met 'n telefoonpaal oor die sand tot in die water. Ons is nou halflyf in die water en hou aan die boot vas. Eintlik was dit seker die idee dat ons die BOOT moet vashou en nie AAN die boot moet vashou nie.
Adai en 'n Britse meisie word eers ingehelp op die boot. Die opgeblaaste rand van die boot is omtrent 500 mm bo die watervlak en dis nogal 'n mission om in te kom.
Lifejackets aan. Hulle wys ons hoe om vas te hou. Jou regterhand hou vas aan 'n tou tussen jou bene. Linkerhand hou vas aan 'n tou langs jou. Voete stewig in kicking straps ingejam.
Die skipper is 'n jong. blonde seningrige Aussie-man.
"Ready?" vra hy en maak die twee 100 perdekrag (elk) enjins vol oop sonder om te wag vir 'n antwoord. Ons skiet vorentoe die branders in.
Hier kom moeilikheid, dink ek.
Ons slaan die eerste brander met 'n helse slag. Almal is sopnat. Dit voel of die boot vir 'n paar oomblikke vlieg voordat dit in die gat agter die brander val. Die volgende brander is op ons. Die skipper gooi die boot links en gee weer vet. Nou gaan ons skuins oor die brander. Die volgende brander tref ons van die kant af en die skipper gooi die boot weer regs.
Ek hou vas, meneer. Ek skat die deinings was so 3 meter hoog van kruin tot trog. My hoed (wat normaaleg stewig pas) wil afwaai en ek pluk hom af. My bril is sopnat en my oë brand van die seewater.
So hou dit aan. Op, af, links , regs - als teen 'n helse spoed.
Die ou weet obviously wat hy doen, se Adai. Hy't dit seker al honderde kere gedoen. Miskien duisende kere.
Omtrent 500 meter die see in hou ons stil by 'n geel geverfde paal wat vertikaal bo die water uitsteek. Dis die suidelike punt van een van die riwwe vertel die skipper. Die rif gaan nog 3km noord en 5 km see-in.
Almal trek hulle lifejackets uit. 'n Hard-core scuba duiker se vir my ek kan maar my lifejacket aanhou as ek meer comfortable sal voel.
Damn right ek sal hom aanhou, dink ek. "Hou jou lifejacket aan" se ek vir Adai.
Ons veg verder met die see noord vir nog so 300 meter waar ons die scuba duikers gaan dump. "As jy die horison dophou sal jy nie seesiek word nie", se ek vir Adai. Ek het dit iewers gelees of gehoor. Maar dis moelik om die horison te sien met die groot deinings.
Dis erg om seesiek te wees se hulle. Eers wens jy jy gaan nie dood nie en later wens jy jy wil nou doodgaan.
Ons hou stil om die scuba duikers te los. Die helderheid van die water is ongelooflik. Mens kan die bodem sien in die sowat 18 m diep water. Die kleur van die water is soos mens op TV sien hoe dit by die Seychelles en daai plekke lyk. Die duikers gaan deur hulle checklys en die skipper tel af voordat hulle agteroor die dieptes in verdwyn. Als baie formeel. 'n Geel boei dui hulle posisie aan.
'n Verdere 200 m noord waar die water 12m diep is,is dit ons beurt.
"When you're ready and in your own time" se die Skipper. Geen seremonie hier nie
"If you want to get back in the boat, just stick up your hand" se hy.
Die britse meisie is verkoue en wil nie duik nie. Sy vergesel net haar boyfriend.
Ek probeer my duikbril nat spoeg soos die scuba duikers gemaak het maar my mond is droog.
Ons gly in die water in. Die water is 27 grade C en heerlik warm. Ek swem 'n entjie weg van die boot af. Adai is langs my. Ek kyk af na die bodem. Mens kan nou die koraalboompies duidelik sien maar als is 2 dimensioneel vanwee die diepte. Geen skaal nie. Alles is ligblou getint en jy kan nie eintlik kleure onderskei nie. As jy 'n haai sien, het iemand gese, moenie panick nie. Le net doodstil en lyk vriendelik. Ek lig my kop en sien die boot is darem nog daar. Adai is nou 'n hele entjie van my af. Ek sien geen visse nie. 12 meter diep dink ek. Dis bloody vier verdiepings hoog. So hoog soos my kantoor van die grond af.
Die deinings het ook geen genade nie. Jy word op en af en links en regs gestamp. Dis moeilik om beheer en rigting te behou. Hierdie is 'n resep om seesiek te word, dink ek.(Eintlik moet mens seker nie die branders probeer veg nie en jou lot maar gelate aanvaar).
Water begin tussen my snor en die duikbril instroom. My oe begin brand en ek probeer van die water ontslae raak maar kry net meer water in. Ek begin moeg en kortasem raak van die effort om kop bo water te hou. As die Aussie-skipper nou besluit om 'n draai te gaan ry, is ek in die moeilikheid, dink ek.
Ek swem terug boot-toe en hou vas aan 'n tou langs die kant van die boot om te rus. Die wind waai teen die boot en jou lyf word gedurig onder die boot ingesleep. Dit voel asof die see jou onder die boot wil insuig. As die Aussie-skipper nou die enjins start sny hy my in twee, dink ek. Genoeg is genoeg. Ek spartel 'n ent van die boot af en steek my hand op so hoog ek kan. Met 'n 2de hulp-poging van die Aussie-skipper is ek terug in die boot.
Die ander snorkelaars het nou redelik versprei. Adai is so 40m van ons af. Ek hou die horison dop. Ons is so 2km van die strand af. Skielik sien die skipper 'n skilpad op die oppervlak dryf. Ons cruise so 100 m en hou 4m van die skilpad af stil. Dis 'n "Loggerhead" van so 1m lank met 'n reuse kop. Die skipper vertel die Britse meisie die hele storie van hoe die skilpaaie in hierdie geweste kom eiers le, ens. Wat van Adai, wonder ek. Wat het geword van "Just stick up your hand"? Ek probeer opstaan om haar te soek maar beland redelik onelegant weer op my boude op die boot se rand. Die boot skommel in rigtings wat die wiskundiges nog moet ontdek.
"Looks like we've lost your wife to the sea, mate" se die skipper met 'n glimlag.
"How do you know where you are?" vra ek.
Hy verduidelik dat hy 2 landmerke (soos bome) op die strand oplyn in een rigting. Dan lyn hy 2 ander landmerke (soos die ligtoring en die take-away) op in 'n ander rigting. Sodoende pinpoint hy sy posisie binne 'n paar meter.
"No need for GPS then" se ek.
"Not unless the lighthouse moves, mate" se hy.
Wiseguy.
Terug by die snorkelaars parkeer 'n ander rubberduck langs ons. Kan ons, as ons voor hulle teruggaan, asb 'n seesiek meisie saamvat? Ek kyk na die meisie. Sy le op haar maag op die bodem van die boot en lyk dood. Ek soek weer die horison op. Word ek naar, of verbeel ek my?
Dis tyd om die snorkelaars na 'n ander plek op die rif te verskuif. (Hulle doen nogal baie moeite om jou waarde vir jou geld te gee) Die jong manne pluk hulleself sonder hulp en met min moeite terug in die boot.
Nou is dit Adai se beurt. Die skipper hou haar hand en vra haar om te skop met die flippers. Sy gly los van sy greep en verdwyn die dieptes in. Toe sy opkom vra hy haar om na ander kant van die boot te swem waar daar branders is. Toe die boot effens dip pluk hy haar op die boot.
Adai lê nou met haar maag op die kruin van opgeblaaste rand.
Die arms swaai en soek vashouplek. Die bene skop en maal om vastrapplek in die lug te kry met daai flippers. Met nog 'n pluk beland sy face-down op die bodem van die boot. Sy moes haar neck-brace gehad het, dink ek. Goeie ding sy't 'n T-shirt aan en nie 'n bikini toppie nie.
Adai het later gesê dis 'n wonderwerk dat sy nie winde gelos het tydens die eskapade nie.
Wat het sy gesien? Baie visse, sommige met snaakse vorms, ens. En 2 Stingrays.
Die uur is verby en ons laai die scuba duikers op. Die timing was impeccable. Terug strand-toe gaan dit baie makliker want ons ry nou saam met die swell. Omtrent 200m van die strand af hou die skipper stil. Lifejackets word weer aangetrek.
"No loose items in the boat?" vra hy. No loose items. Vir 'n paar oomblikke kyk hy om hom rond. "HOLD ON TIGHT GUYS" skree hy en maak daai monster enjins oop.
Liewe donner. Dit voel of ons teen 900km/uur op die strand afpeil. As ons daai sand strike, vlieg ons tot by ons tent, dink ek. Toe ons die sand tref voel dit of my nek ses duim langer word. Die boot gly oor die sand tot amper bo-op die duin, ver van die water af. Vir 'n oomblik huiwer die die boot horisontaal en tiep dan stadig sywaards tot dit op sy skuins bodem tot ruste kom. "Well done" se die ander ouens. "Good beaching" se hulle. In stilte wonder ek hoe 'n bad beaching lyk en voel. Ons klouter van die boot af. Moeder aarde. Terra firma. Dit waarvoor die mens ontwerp was.
Adai is nogal erg naar. Die begin van seesiekte. Ek voel OK.
Sal Adai dit weer doen? Natuurlik sê sy. Dis soos die wildtuin. Volgende keer swem jy dalk tussen dolfyne en die whale-shark. Wie weet?
Sal ek dit weer doen? Ek moet erken ek het nie 'n probleem met die "Kiddies pools" nie. In een van die poele het ons die ongelooflikste, verskeidenheid van neonkleurige vissies gesien. Daar was 'n "cleaner wrasse" wat 'n paling se tande skoongemaak het; 'n ander goudgeel paling met luiperd-kolle; 'n geel pylstert met neon pers kolle, 'n wit vis met 'n geel kol op sy sykant wat sy neus heeltemaal in die sand druk op soek na kos, ens.ens. Adai het gese dis soos om in 'n vistenk te duik.
Boonop is dit verniet. En jy hoef nie heeltyd die horison dop te hou nie.
DANKIE TOG, VIR LOW RANGE
Soos dit uitdraai, slaap ons 'n paar aande by Groenvlei langs Sedgefield en dus is ons nie meer te ver Oos om nog deur die kloof op pad huis-toe te ry nie.
Op 1 Januarie 2009 vertrek ons saam met die Boshoffs vanaf Lake Pleasant op pad na die Prins Alfred-pas en Uniondale-toe. Ek het nogal verwag dat ons mekaar weer op die pas of Uniondale sal teekom, maar soos ons met met die reguit ent pad al langs Groenvlei in die rigting van Knysna gery het, het ek gesien hoe die Boshoffs se Prado en waentjie voor ons kleiner en kleiner word totdat dit oor die bult verdwyn het. Dit was die laaste sien van die Boshoffs.
Oor die mistige Prins Alfred-pas en anderkant Uniondale draai ons af op die grondpad Baviaanskloof-toe.
Na omtrent 30 km is ons aan die bokant van Nuwekloofpas, die begin van die kloof. Soos mens afkronkel met die pas word die kloof dieper en dieper. Vir kilometers vleg die pad talle kere tussen die kranse deur en oor die rivierlopie onder in die kloof en om elke draai verstom jy jou aan die lae op-gevoude rotsformasies wat lyk soos 'n hoederpastei se blaardeeg. Amper soos Meiringspoort maar baie meer aanhoudend.
Eindelik vou die kloof oop en bevind jy jou in 'n bree vallei, omring deur massiewe berge. Die pad loop al met die vallei af en elke plaas langs die pad adverteer iets om te verkoop by sy hek. Blyplek, teekamer, boomstompe, bobbejaanskedels, klippe.
Meestal blyplek. Daar's nie juis meer tekens van aktiewe boerdery nie.
By die plaas Rietrivier draai ons in. Hulle adverteer slaapplek in grotte en word ook op die kaart aangedui as die enigste inligtingsentrum in die kloof.Ons het skaars stilgehou by die inligtingsentrum toe Boetie Terreblanch langs ons stilhou op sy quad. Bejaarde man met 'n paar grys hare.
"Dit was my aartappelstoor voor ek dit die inligtingsentrum gemaak het." verduidelik hy toe hy die deur oopstoot. Geen slotte nie, let ek op.
In die middel van die 6m by 6m kamer is 'n massiewe plaastafel vol gepak met pamflette, brosjures, foto's ens. 'n 50 mm Wye verfstreep op 3 van die kamer se mure verteenwoordig die pad deur die kloof. Al langs die kronkelende verfstreep word elke plaas aangedui. By elke plaas is foto's en inligting soos blyplek op die plaas en wat daar op die spesifieke plaas te doen is. Vyf-en-twintig plase tel ek vinnig. (en dis maar een van drie roetes deur die kloof). In een hoek van die kammer is "Pick'n Pay" geverf. Onder die kennisgeing le daar 3 pakkies biscuits te koop.
Boetie begin met 'n toer deur die plase op die muur. Na 'n rukkie stop ek hom. (Dit sou net te lank vat en dis al half-vier)
"Eintlik sou ons graag by die Kougadam wou slaap" se ek en wys na die kano op die dak. (Die dam is in die reservaat by die einde van die kloof nog sowat 150 km ver in die rigting van Patensie.)
Boetie kyk na my. Eers vertel hy ons hoe onmoontlik dit is om 'n permit te kry om een tree van die "hoofpad" deur die reservaat af te wyk. Die reservaat (nog 70 km ver van Rietrivier af) is wildernis-area en slegs daai mense met dik brille van die universiteite kry f.. permitte se hy. Selfs hy, wat 'n inwoner van die kloof is, mag nie 'n permit kry om die dam te besoek nie. Hoekom stal Natuurbewaring plakkate uit van die dam as mens dit nie kan besoek nie, wonder ek.
Toe wys hy ons 'n profiel van die pad op 'n rekenaar gedrukte papier.
"Hier", se hy,"is Sandvlakte. Die laaste privaatgrond voor die reservaat. As julle by Doodsklip kom in die reservaat en julle sou wou omdraai, kom slaap hier.
Hoekom sou ons wou omdraai, wonder ek.
"Hier by Doodsklip moet jy maar rustig ry. Vat dit stadig en.." hy kyk na die Subaru,".. julle kar is darem redelik hoog. Laat die kar maar die op-en-af klimwerk doen op sy tyd. Vat dit net rustig" se hy.
"Twee karre kan by mekaar verbykom, maar jy moet maar mooi meet en pas." "In die ou dae het ons groot lorries met tabakblare met die pad PE-toe gestuur," se hy.
"Nou word die pad nie meer in stand gehou nie."
Op-en-af klimwerk?
Adai kyk na my. "Miskien moet ons hier slaap", se sy.
"Ek geen idee wat voorle nie, " se ek vir Boetie.
"Ek stel voor julle slaap iewers voordat julle die reservaat aanpak. " se hy.
"As iets verkeerd gaan in die reservaat, is jy alleen. Geen selfoonontvangs nie.Niemand om te help nie. Jy's alleen. En teen daai tyd is dit al donker " se hy.
Hy wou ons nog verwys na 'n plaas wat sou huisvesting kon bied, maar ons besluit om in een van sy half-klaar "grotte" te slaap.'n Anderste soort mens, die Boetie. Hy hanteer seker die inligtingsentrum sonder vergoeding, op sy eie, namens almal en boonop is daar geen teken van selfverryking aan sy kant nie."Ry maar op met die kloof en gaan kyk na Dawid-se-bak (die grot se naam). As julle daarvan hou trek maar in. Dan praat ons more"
Geen vooraf betalery nie. Geen deposito betalery nie.Maar dis die gevoel wat jy kry as jy deur die Baviaanskloof ry. Hierdie afgesonderde mense het ander waardes, amper 'n subkultuur van hul eie.Hulle het nie 'n probleem daarmee om luukse akkommodasie op hulle plaashek te adverteer met 'n "Te Koop" bobbejaanskedel langs die akkommodasie kennisgewing nie.Dis seker maar hoe dit is met die mense van hierdie "gatskraal-wereld" - soos Boetie dit noem.
Foto's moet maar die goed toegeruste oorhang waaronder ons geslaap het, illustreer. Dit was wonderlik-vreemd. Jy slaap alleen tussen die berge. Geen siel te hoor of ligte te sien nie. Die vier of vyf "grotte" is kilometers vanmekaar in die kloof op gespasieer en ons was totaal afgesonder en alleen in die kloof met slegs die berge se stilte as geselskap.
Ek het die nag onder die Gwarrieboom in die "grot" geslaap en effens nat gereen voordat ek moes skuif.
Die volgende dag het Boetie gese as dit meer gereen het, sou hy kom kyk het. Hy se hy't agtergekom dat die dak iewers lek.Soos Ruan se: Miskien lek dit daar waar die Gwarrieboom is. Daar waar geen dak is nie.
Toe ons die laaste privaatgrond by Sandvlakte agterlaat en die reservaat binnery, was dit ook die laaste van die gangbare grondpad.
Die vallei het weer toegevou om ons en ons criss-cross die Kougarivier baie keer. (Dis die rivier wat naby Jeffrey's uitmond).Op een plek was die rivier seker 40m wyd en tot 300mm diep.'n Isuzu bakkie het darem gewag en gekyk of ons kon deurkom. (geen foto van die stukkie pad nie - wou nie stop nie)Die pad (2-spoor) is plek-plek so smal dat die bosse die kar gelyktydig aan albei kante krap. Soos Boetie gese het, jy sal wragtag mooi moet meet astwee karre verby mekaar moet kom.Na omtrent 20km hiervan begin die klim berg-op.
Doodsklip.
Met die eerste opdraande le die rots-besaaide donga's soos 'n reuse spinnerak in die "pad". Ek verstaan nou wat Boetie Terreblanch bedoel het toe hy gese het die kar moet maar die klimwerk op sy eie doen. Soos die een voorwiel in 'n 300mm diep donga afgly, klim die ander voorwiel al op teen die oorkanste helling van dieselde donga wat skuins oor die pad loop.
Die agterwiele volg dieselfde patroon. Die waentjie volg gedwee maar die hitch kreun, knars en clang-clang agter ons. Dit laat Ruan worry. En vir my.
Voor ons wieg-wieg 'n Landrover deur die donga's en oor die klippe. Ons vorder stadiger as loop-spoed. Vir kilometers.
Op een plek waar die pad bietjie wyer is, stop 'n wit Subaru wat van voor-af kom, langs ons
. "What's the road like up ahead?" vra die man.
"Hairy" antwoord ek en verduidelik.
"There is a lot more of that where you are heading" se die man. Dit wou ek nie hoor nie.
"Good thing you brought alternative transport" se hy en wys na die kano op die dak.
"Won't help you much, though" se hy.
'n Paar kilometers verder met die berg op gebeur die ondenkbare. Daar kom 'n Mercedes-lorrie van voor-af. (Geen lorries word eintlik toegelaat nie) Die 4X4's staan tou voor ons om verby te skuur. Die lorrie is aan die berg se kant van die helling en het skuins teen die helling parkeer sodat ons kan verbyskuur, met die afgrond 'n paar sentimeter van ons linkerwiele af.
Vir kilometers kruip en kronkel ons teen die berg op en die pad is party plekke so smal dat twee karre wragtag nie by mekaar verby sal kom nie. Op een stadium het ek in die spieeltjie gesien hoe die waentjie se regterwiel omtrent 250mm hoog die lug in spring toe ek (bietjie vinnig) deur 'n sloot ry.
Se-nou daar kom 'n kar van voor-af met 'n sleepwa? Iemand sal moet reverse vir honderde meters om die kronkels en hair-pin draaie.Dit gaan nie ek wees nie, besluit ek.
Een ding is seker: as jy eers met die pad begin het, is jy committed vir die volgende 50 of 60 kilometer. Daar is geen manier wat jy kan omdraai nie (met 'n waentjie) - ten spyte van wat Boetie Terreblanch gese het.
Die kar se temperatuur bly op normaal en ek begin wonder of die meter werk.Dit is doodstil in die kar en al wat jy hoor is die gly-gly van die bande deur die donga's en oor die klippe en die gekerm van die hitch.
Tot Adai se: "Bliksem. Kyk daai gradient!"
Die Landrover voor ons is teen 'n oorkanste helling besig om met 'n skynbare onmoontlike helling op te skommel.Toe ons by die helling kom, sit ek die kar in Low Range vir die tweede keer vandat ons hom het. Dit maak 'n ongelooflike verskil. Ek raak skaars aan die petrolpedaal maar die Subaru klim nou met gemak deur die slote en oor die klippe. Moes dit lankal gedoen het. Die kar se pens is 200mm van die grond af en ons het 3 keer geskraap, sonder skade.
Bo-op die berg hou ons stil en ek inspekteer die hitch. Die 360 grade uitsig is asemrowend en die blomme (heide, speldekussings, ens) is heeltemal anders as die wat jy sien in die Kaap.Ek het gladnie verwag om Kaapse fynbos tee te kom in die Klein Karroo nie.
'n Landrover met 'n massiewe offroad waentjie kom van vooraf en iemand skree
"Ahoy, there!" met die verbygaan.
Ahoy jouself, dink ek. En ek hoop jy't remme aan daai waentjie, swaer. Remme wat werk.
Ons voel bietjie uit plek uit met die "soft" 4X4 met 'n boot op die dak en 'n Ventertjie in tou tussen al die hard-core 4X4's.
Die selfone werk nou weer en Adai bel gou vir Brenda.
"Nou weet iemand darem waar ons is," troos sy haarself.
Berg-af was ewe erg. Op 'n stadium se Adai:
"Jannie het by Sani-pas die Prado in low range gesit toe ons af gery het."
Dit is duidelik dat sy ook, soos ek, gewens het dat Jannie liewers nou aan die stuur was.
Half-pad berg-af wil Adai weer 'n draai loop. Vir die derde keer. In 'n uur. Maar ek weier. Ek wil so gou moontlik van die bleddie berg af kom. Hoe langer jy op die berg is; hoe groter die kanse dat 'n kar van vooraf sal kom.
Omtrent 4 ure nadat ons met die pas begin het is ons deur. Omtrent 60 km.
Prins Alfredpas is 'n highway in vergelyking. Die laaste 60 km van Baviaanskloof is soos 60km se Sani-passe aanmekaar gelas. Party plekke sou die padoppervlakte selfs slegter kon wees as Sani op sy ergste. Daar is darem nie so baie los klippe in die pad soos op Sanipas nie. Dis die verspoelings (donga's) en rotsbanke wat uisteek.
Is ons spyt ons het dit gedoen?
NEE. Dit is die skouspelagtigste omgewing waardeur ons nog ooit gery het. Majestieuse berge, diep, donker klowe en uitsonderlikeblomme wat mens nie aldag sien nie. 'n Wildernis in die ware sin van die woord.
Sal ons dit weer doen? Been there. Done that. Never again. But that's a pity. Dis so ongelooflik mooi.
KAYAK KURSUS
gaan omruil vir ‘n Stealth Supalite single-seater.
Ons het ook die wyse besluit gemaak dat ek (vir my verjaardag) ‘n kursus moet doen in “ sea-kayaking” by Scottburgh.
Saterdag 13 Junie meld ons toe aan by Mick, die instrukteur.
Ek het iewers in ‘n artikel gelees dat hy een-of-ander Britse kampioen visserman was in sy jong dae. Hy is so +- 50jr en ‘n baie vriendelike, warm tipe mens.
Saam met my op die kursus is ‘n man (62jr) en sy seun (18jr?) van Pretoria.
Mick se:
“Consider the following :
You are 50 m out in the sea in deep water and you misread an approaching breaker – this will happen many times.
You capsize – this will happen many times.
Now you need to do the following : (many times)
1 Retrieve your paddle (it is considered very dangerous by some paddlers to have your paddle on a leash)
2 Make sure you grab you paddle correctly, ie not upside down.
3 Swim back to your kayak – which WILL be upside-down.
4 Get your kayak right-side up. Get back onto the kayak.
5 Point the kayak in the right direction, ie head-on to the next breaker.
6 Build up speed to face the next approaching breaker with confidence.
YOU HAVE 3 TO 10 SECONDS to do all of the above before the next breaker hits you.”
Is ek stupid of mal, wonder ek.
“ I will show you techniques to help you cope with the surf, but that’s all I can do. Its up to you to master the techniques by doing three things:
Practice
Practice
and practice"
“Don’t worry, “ se hy “that man coming in now is 72 years old.”
Die omie wat inkom surf heerlik met sy kayak tot op die strand.
Uit vorige e-mails weet Mick dat ek shit-scared is. Hy kyk na my en smile .
“Your Supalite cannot sink”
Hy verduidelik die verskillende tipes kayakke, hoe hulle gebou is, watter tipes geskik is vir watter tipe (bang) mense, ens.
Op die lagoon wys hy ons onder andere hoe om die paddle vas te hou,
hoe om te sprint vanuit ‘n stilstaande posisie,
hoe om ‘n 180 grade U-turn te maak met slegs 3 strokes van die paddle, (wat die dubbel kayak nooit sou kon doen nie)
hoe om agteruit te sprint. (incredibly moeilk).
Dit is duidelik dat die tegnieke daarop gemik is om die surf te vinnig negotiate en hoe om te vlug as die situasie buite beheer lyk.
Hy wou ons nie wys hoe om uit te val en terug te klim in die lagoon nie omdat die lagoon se water te koud was. (Baie nice van hom)
By die strand vat hy ons een-vir-een op die surf en escort ons om die tegnieke te oefen. In die surf is die baie moeilker omdat die water “randomly” in alle rigtings onder die kayak “swirl”
Natuurlik het ons skaamteloos omgeslaan voor die ander mense op die strand. Gelukkig was die water vlak en ons kom maklik terugklim in die kayakke.
Hy het ons ook vertel van hoe om die see “te lees” Baie was gese wat ek nie nou kan herhaal nie maar dit is duidelik dat common sence meer waarde het as scientific analysis.
Dit is baie moeilik as jy op die kayak sit om te sien wat agter die eerste “foamie” aangaan.
Dan moet jy maar die surfers agter op die deining dophou. Solank hulle stil sit en wag op hulle surfboards, is dit redelik OK, maar die oomblik wat hulle opstaan om te surf, moet jy gatskoon maak strand toe want “ then you know there’s a BIG ONE headed your way”
Die kursus was ‘n ongelooflike ervaring en Adai moet dit ook doen – al is dit net hoe om gesonde kayaktegnieke te leer. Of sy (of ek) ooit die krag en spoed gaan he om by ‘n plek soos Scotties (of Cape Vidal, of Sordwana) deur die surf te kom tot agter in die “backline” (waar die vis is) weet ek nie.
Net toe ons “prakties” by die strand verby is, kom daar ‘n vriend van Mick terug van die “backline” met ‘n 25kg King Mackerel in sy kayak.
Terug by Mick se huis het ons gesels oor visvang en iemand het per selfoon vir Mick laat weet dat hy sopas ‘n seilvis agter die “backline” gevang het (en release het). (vanaf sy kayak, natuurlik)
Mick is sover die enigste persoon wat dit kon regkry om ‘n Blue Marlin vanaf sy kayak te vang. Hy se self dat hy dit nooit sou kon regkry as die marlin in goeie gesondheid was nie
Hy het die marlin release.(Mosambiek)
Die volgende oggend by die klub was die see ongelooflik rof en ek het (weereens) spectacularly omgeval met die terugkom strand-toe – to the amusement of Bruce who is the owner/designer/exporter of Stealth Kayaks and happened to be at the club at the time.
Ek ken Bruce nou al goed en hy het nader gestap en gese “Never stop paddling when you feel the swell from behind lifting your backside. Don't stop paddling!!”.
Mick het dit seker twintig keer genoem die vorige dag, maar dit sal tyd vat om in te sink.
Maandag en Dinsdag het ek en Adai na die pragtige Umtamvuna toe gegaan en rondgefoeter met die Mirror en die Stealth.
Altwee van ons se beenspiere is nou baie seer van die oefening op die kayak – believe it or not.
Mick het genoem dat “Kayakking is very much a complimentary exercise to mountain biking in particular”
Die jong man wat saam met my die kursus gedoen het, is ‘n mountain-biker.
Nou-ja, ons het nou weer ‘n baie goeie vriend in Mick gemaak en as ek eers agter die “backline” kan kom (en kan terug kom in een stuk), is daar nog die “intermediate” en “advanced” kursusse wat Mick aanbied.
Maar ek dink dat my eerste poging om die "backline" te bereik en ongeskonde terug te kom (met of sonder vis) sal wees soos Essie se eerste "solo" vlug in'n vliegtuig.
DIE NUWE SA VERWAR MY
Maandag 15 Desember 2008. (Op pad Kaap-toe)
Ons ry Graaf-Reinett half-vier die middag binne. Ek panic want ek moet 'n visvanglisensie koop voor die Poskantoor sluit. More is vakansiedag en as ons nader Kaap-toe ry en ek wil dalk visvang, moet ek 'n lisensie he.
Die Poskantoor is nog oop en ek storm die antieke gebou binne.
Twintig voor vier.
Als in die Petrus de Klerk-begou is doodstil en donker. Al teken van lewe is 'n liggie wat op die agterkant van 'n rekenaar skyn agter die toonbank. Daar moet tog iemand wees, dink ek.
Bokant die toonbank is 'n kennisgeweing wat lees "Lui vir diens" is 'n fietsklokkie aan die toonbank se tralies vasgebout. Ek lui toe vir diens. "n jong Xhosa steek sy kop om die hoek van 'n kantoordeur in die lang gang.
"I would like to buy a fishing license", se ek toe hy aangestap kom.
"You must go to the office next to the dam, about 3km towards Middelburg" se hy.
Kwart voor Vier.
Ek drafstap kar-toe en ons jaag in Middelburg se rigting. Ons het die kantoor langs die pad gesien en ek weet daar is geen speed-traps nie.. By die kantoor langs die dam vertrek 'n bussie met personeel gelaai maar die voordeur is nog oop. Toe ek binnestorm, loop ek amper 'n Xhosa vrou onderste-bo.
"I would like to buy a fishing license", se ek uit asem.
Sy kyk op haar horlosie.
"Please?" se ek.
"Ok" ,se sy en neem plek in agter die toonbank. Ek vul 'n poskaart-grootte kaartjie in en gee dit vir haar.
"Five Rand please", se sy.
"Only five Rand??" vra ek. "For a Provincial license?"
"Oh no," se sy
"This license is for this dam only. If you want a Provincial license you must go to the Petrus de Klerk building".
"I've just been there!" se ek.
"You must go to the Petrus de Klerk building"
Ons jaag terug Petrus de Klerk-begou toe. Die deure is nog oop maar die rekenaar se liggie is nou dood. Ek lui vir diens. 'n Paar keer.
Dis net na vier-uur.
'n Gesette witman in uniform kom aangestap.
"Ek wil graag 'n Provinsiale visvanglisensie koop", se ek uitasem. "jammer ek's bietjie laat" voeg ek by.
Dalk sal dit help.
"Ag. meneer" se hy "as jy wil visvang, moet jy maar visvang. Ons het nie geld om visvanglisensies te laat druk nie. Die inkomste uit verkope van visvanglisensiesis minder as die koste om dit te laat druk."
Ek weet nie wat om te se nie.
"So as ek more in Uniondale se omgewing wil visvang, kan ek maar visvang. Sonder 'n lisensie?" vra ek na 'n rukkie.
Hy glimlag. "Uniondale? Uniondale is in die Wes-kaap. Ek weet nie wat die situasie is in die Wes-kaap nie. Jy is nou in die Oos-kaap, meneer"
Ek staar na die man.
"O" is al wat ek uitkry
Uniondale is in die Wes-kaap en ons is nou in die Oos-kaap, meneer, draai dit in my kop.
Op pad uit wil my bene my skaars dra en ek gaan sit op die trappe buite die Petrus-bleddie-de Klerk-begou en kyk hoe Adai nog die energie het om 'n foto van my te neem.
Ons moet slaapplek soek, dink ek.